Welkom by KUMTU Avonture

DIE AUGUSTUS RYNTOER WAS 'N REUSE SUKSES EN HET OP 'N HOOGTEPUNT AFGESLUIT MET 'N PRAGTIGE VERTONING IN AMSTERDAM DEUR LIZE BEEKMAN, ANNAKE DE VILLIERS EN JACONELL MOUTON UIT SUID-AFRIKA; MAX DOUW EN EVELYN KALLANSEE UIT NEDERLAND EN HANS VERREZEN UIT BELGIË.  BAIE DANKIE AAN BEELD WAT DIE KONSERT MOONTLIK GEMAAK HET!

INSKRYWINGS VIR 2011 IS GESLUIT.  INLIGTING EN INSKRYWINGS VIR TOERE IN 2012 SAL BINNEKORT BESKIKBAAR WEES.

The Rhine tour in August was an immense success which culminated in an unforgettable show in Amsterdam with Lize Beekman, Annake de Villiers and Jaconell Mouton from South Africa; Max Douw and Evelyn Kallensee from Holland and Hans Verrezen from Belgium. A big thanks to Beeld who made this special occasion possible!

Info and applications will soon be available for our upcoming tours in 2012.

 

Janice Keogh, 'n verslaggewer van Beeld, het vroeër vanjaar die Ryntoer op die Rigoletto meegemaak.  Hier volg haar indrukke...


Vakansie in Europa

deur Janice Keogh
Beeld-verslaggewer

Oorsese vakansies is nie altyd maanskyn en rose nie.Janice Keogh

Pas uit die skool uit het ek ’n vakansie in ’n brosjure gesien wat idillies gelyk het: Agt Europese lande in 15 dae met glimlaggende foto’s van bruingebrande mense in straatkafees. Min het ek geweet dat ek ‘n vakansie ná my vakansie sou nodig hê.

Om vir meer as twee weke lank elke oggend om 06:00 jou swaar tas in ’n bus te laai en dan die mooiste gedeelte van die dag om te ry van een stad na die ander is nie vir almal beskore nie. Groot was my verbasing dus toe ek hoor van ’n vakansie waar ’n luukse hotel saam met jou reis.

Die MS Rigoletto is ’n 105 meter lange boot wat klein genoeg is om persoonlike diens ’n prioriteit te maak, maar groot genoeg dat daar nie juis tyd is vir vereeld raak nie.

Anders as van die groter toerskepe dra dié luukse boot net 120 passasiers. Wat uitstaan is die vlak van persoonlike diens wat jy kry, wat die indruk skep dat jý die belangrikste persoon aan boort is. Binne twee dae ken al die kelners jou, groet die hotelbestuurder van die boot jou as jy by die kroeg gaan sit vir ’n glasie wyn en weet die boot se musikant agter die vleuelklavier van jou voorkeur vir Billy Joel.

Die kos en akkommodasie aan boort dié boot is ook ver verwyderd van die bus van ouds. Die kajuit is goed ontwerp dat daar genoeg spasie is vir twee mense om gemaklik te slaap, daar is ’n kas waarin jy jou klere kan uitpak en elke kajuit het ook sy eie, goed ingerigte badkamer.

Rigoletto salonEtes word in die boot se eetsaal bedien deur kelners in deftige drag en wit handskoene en elke maaltyd oortref die vorige. Ontbyt en middagete word in ’n buffet-styl bedien met eindelose opsies. Aandete is gewoonlik ’n viergangmaaltyd wat ’n sop, voorgereg, hoofgereg wat enigiets van vars vis tot geurige biefstuk kan wees (jy het altyd ’n keuse van hoofgereg), oorspronklike nagereg (hier het jy ook ’n keuse) en dan koffie om elke maaltyd af te rond.

Daar is ook nie sprake dat jou ete bederf sal word deur ’n skommelende boot nie, want die boot vaar so stil dat jy in ’n stadium begin wonder of dit jý is wat beweeg of die landskap. Seesiekte is dus ook heeltemal uitgeskakel.

Dit is ook volgens baie passasiers wat vantevore op die Rigoletto gereis het die “beste manier om dié deel van die wêreld te sien”, omdat jy aandoen by pragtige klein dorpies waarvan die meeste mense nog nooit gehoor het nie en sien ook plekke wat bekend geword het vir hul natuurskoon en pragtige ou kerke en geboue.

Die luukse akkommodasie en heerlike kos word egter oorskadu deur die opwindende toerprogram.

Die toer begin op ’n hoogtepunt met ’n besoek aan die Franse dorpie Strasbourg. Dié idilliese plekkie is bekend vir sy ooievaars wat daar nes skrop.  Die ware Jakob is op die geelstamvyebome (Sycamores) se toppe te sien en sagte weergawes daarvan word in die winkeltjies rondom die majestieuse Strasbourgse katedraal (wat in die 1400’s gebou is) verkoop.

Petite France is ’n móét sien gedeelte van die dorpie waar kanale verby Middeleeuse huise loop. Baie van dié huise is deur die jare in restaurante omskep, so gaan drink gerus ’n koppie koffie in ’n gebou wat honderde jare oud is en ’n paar ton hout geneem het om te bou.Heidelberg

Heidelberg, die studentedorpie met die kasteel wat deur Napoleon verwoes is en die pragtige ou brug wat die middelpunt van die dorp vorm is beslis een van die hoogtepunte van die Ryn-toer.

Dié dorpie het net die regte kombinasie van pragtige argitektuur, ryk geskiedenis en winkels wat elke koop-verslaafde se hart vinniger sal laat klop.

Gaan maak gerus ’n draai binne die Heidelbergse kasteel (Heidelberger Schloss) waar jy ’n wynbalie sal sien wat 220 000 liter wyn kan vat. Daar is ook trappies wat bo-oor die balie loop, so neem jou kamera saam en kry ’n kiekie bo-op die wêreld se grootste wynvat.

Die uitsig vanaf die kasteel oor die res van die dorpie is ook asemrowend en as jy gelukkig is sal jy selfs kan sien waar die bekende tennisspeler Steffi Graff eens gewoon het.

Rüdesheim is een van die mooiste dorpies wat jy op die toer sal sien en as jy eers op die bergtop staan waar die standbeeld van Germania bo die dorpie uittoring sal jy nie genoeg kan kry van die asemrowende uitsig nie. Jy hoef ook gelukkig nie self teen die styl heuwel tussen die wingerde op te stap om hier te kom nie, maar kan sommer van die kabelkarretjies (wat 7 Euro vir ’n retoertog kos) gebruik maak.

Gaan loop ook ’n draai deur die Drösselgasse, ’n bekende straatjie waar jy enigiets van bewegende marionette-wynproppe tot bierbekers kan koop.

Romantiese RynDie gedeelte van die Ryn-vallei tussen Rüdesheim en Keulen is van die mooiste gedeeltes op die toer. Hier vaar jy verby tientalle kastele waarvan sommige gedeeltelik tydens die eerste en tweede Wêreldoorlog verwoes is en ander wat ook weer heeltemal behoue gebly het. Kyk ook uit vir die standbeeld van Loreley. Volgens legende het sy verskeie bote wat deur dié nou gedeelte van die Ryn gevaar het, se einde beteken. Sy sou glo met haar skoonheid die kapteins van die bote se aandag aftrek wat veroorsaak het dat die bote op die rotse geloop het.

Van Keulen kan mens ook nie genoeg kry nie en dit is voorwaar ’n stad wat iets vir almal inhou. Dit is veral bekend vir die reusagtige Domkerk wat UNESCO-wêrelderfenisstatus bereik het.

Binne-in die Dom is die grootste uitdaging om te besluit wáár om te kyk. Van die eerste gekleurdeKeulen loodglasvenster tot by die laaste gedetailleerde mosaïekvloertoneel is perfek geskep en is werklik iets wat nie met foto’s vasgevang kan word nie, maar wat jy moet sien om te kan glo.

Een van die ander groot hoogtepunte is die sjokoladefabriek waar jy jou kan wys maak hoe dié lekkerny gemaak is en self ook sien hoe die sjokolade gemeng, in vorms gegiet en in blink papiertjies by die ander kant uitkom. Dit is ook die ideale plek om vir geliefdes geskenke te koop.

Kunsliefhebbers kan gerus ook by die Wallraf-Richartz-Museum ’n draai gaan maak, waar jy van die groot meesters soos Rembrandt, Cezanne, Degas en Rodin se handewerk kan sien.

Die toer eindig op ’n hoogtepunt in een van Europe se kleurvolste stede – Amsterdam! Van dié stad, en ongelukkig ook laaste stilhouplek van die toer, kan ’n toeris eenvoudig nie genoeg kry nie.

Jy gaan ’n paar weke moet hê om jou behoorlik te kan verlustig in die blommemark vol tulpe, die stroopwafels, die kultuur in ’n tipiese Nederlandse kroeg en ’n vinnige drafstappie deur die bekende (dalk berugte) rooiligdistrik, oftewel De Wallen.

Dié wêreldstad is ook kunsliefhebbers se droom, want in die bekende Rijksmuseum en Van Gogh-museum kan jy onderskeidelik van die wêreld se waardevolste kunswerke besigtig. In die Rijksmuseum is die hoogtepunt ongetwyfeld Rembrandt se Nagwag wat met sy grootte en fyn detail die kyker se asem skoon wegslaan. Die Van Gogh-museum het ook heelparty skatte soos dié Nederlandse meester se “Sonneblomme”.

Jy kan ook gerus per bootjie ’n toer van die kanale in Amsterdam doen, wat maak dat jy die stad op ’n heel ander manier sien.

Die Anne Frank huis is ook ‘n besoek werd, maar maak seker dat jy ’n halfuur voor die deure oopmaak reeds daar is, anders gaan jy ’n láng wag in die gesig staar.

Zaanse Schans

Amsterdam is ‘n fietsryersparadys met feitlik net soveel fietse as inwoners in die stad.  Dit is dan ook een van die lekkerste maniere om die omgewing te verken– in die saal van ‘n egte Nederlandse fiets.  ‘n Mens voel déél van die plek wanneer jy so saam met Amsterdammers van alle ouderdomme deur die straatjies en oor die kanaalbruggies ry.  Voor jy jou kom kry is jy in die buitewyke van die stad en lê die groen Nederlandse platteland oop voor jou.  ‘n Mens kan langs een van die laaste ou Nederlandse windmeulens rus, voordat jy tussen weivelde deurry waar swart-en-wit melkbeeste tevrede lê en kou.  Iewers draai mens by ‘n plaas in waar ‘n boer aan jou die geheime van kaas en klomp-makery verklap.

Uiteindelik is ‘n mens net lank genoeg in Nederland om iets van die kultuur te beleef en weg te gaan met ‘n begeerte om weer hier te kom kuier.

Toe ek vir oulaas ‘n blik van ou Amsterdam deur die vliegtuig se venstertjie kry, het ek verkwik en bederf gevoel – tevrede dat ek hierdie keer régtig vakansie gehou het!


Kumtu-avonture is 'n toerbesigheid wat onder die vaandel van Christine van Wyk Toere staan.  Christine van Wyk Toere is een van Suid-Afrika se voorste buitelandse toermaatskappye met meer as 30 jaar ondervinding in die bedryf en 'n reputasie vir uitstekende organisasie en hoë kwaliteit toere na verskeie dele van die wêreld. Christine van Wyk toere is lid van SATSA, Southern Africa Tourism Services Association, lidmaatskapnommer 770.

Kumtu adventures is a tour operating company under the auspices of Christine van Wyk Tours. Christine van Wyk Tours is one of South Africa’s leading tour operators with more than 30 years of experience and with a reputation for excellent quality tours throughout the world. Chrisitne van Wyk Tours is a member of SATSA, Southern Africa Tourism Service Association. Membership no. 770.

Rynvallei Lied

There seems to be an error with the player !

Terugvoer

Dit is `n ongelooflike ervaring en is rus vir die siel! Gaan beslis weer! amazing!

Johan Vermaak

Volg ons


Ons het 1 besoeker aanlyn